Frames | No Frames |
Main Page |
Pieter |
Brits Family |
JESUS-Film |
Wat ‘n voorreg om te kan lewe en te werk!! Ja,die nuwe jaar is volspoed aan die gang en met die krag en genade van die Here pak ons dit entoesiasties aan.
Dit is vandag die Britse se gebed vir jou, dat Hy sy engele opdrag sal gee om jou te beskerm waar jy ookal gaan. (Psalm 91:11)
DINAMIKA!
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak deur te getuig van dit wat ons belewe het gedurende die naweek van 25-27 Februarie ‘05.
Ter agtergrond wil ek noem dat in ons kerkbediening strategie, dit belangrik vir ons is om Geestelike leiers op te lei sodat hulle weer hul lidmate kan toerus, om ander mense na die Here te lei.
By b.g. naweek het ons o.a. 35 Geestelike Leiers uit die Rustenburg omgewing toegerus vir hierdie doel. Wat veral wonderlik was, was die feit dat ek van personeel kon gebruik maak wat reeds opleiding in die Volwasse Onderrigstyl ontvang het.
Die Geestelike leiers wat dit bygewoon het, was geweldig beindruk met die praktiese, interaktiewe lesings. Hulle kon eenvoudig net nie daaroor uitgepraat raak nie.
Na afloop van die kursus het 15 van hierdie leiers my kom vra om ook hulle op te lei, om op hierdie wonderlike manier onderrig te kan aanbied.
Die moeilike deel was toe ek uit die groep studente slegs 8 moes kies, met wie ek ‘n pad verder gaan loop. (Eintlik kan een mens nie meer as 4 dissipels effektief hanteer nie):
Die 5 manne en 3 vroue werk wonderlik saam. O.a. is daar ‘n NG dominee as een van my dissipels.
Willem & Heleen lei die lofprysing.
Elke oggend voor die aanvang van die lesings sing ons lekker saam.
Pieter ruil transparante terwyl die res saamsing.
Die Sondag het ons in 'n tent, in een van die 'villages' ons lesings aangebied. Die kerk waar ons die res van die naweek by gewees het, het self hul lokaal vir die dag benodig.
Pravani & Katy, twee Indiese meisies lewer 'n puik Interaktiewe lesing oor gebed.
Hulle het glo verskriklik verdwaal vanaf Midrand na Rustenburg. Weet nie hoeveel ure hulle op die pad deurgebring het nie.
Sarel lewer 'n inset gedurende 'n groepbespreking.
In die Interaktiewe Onderrigstyl, is dit belangrik dat die enkeling veiligheid in die groep vind. Die fasiliteerder mag daarom byvoorbeeld nooit die 'veiligheids-reël' verbreek nie.
Lenie in aksie.
Sy en Mike is die hoof van die Masedonia Projek van Campus Crusade for Christ, en het spesiaal vanaf Pretoria deurgekom om hul lesing aan te bied.
Hierdie dame, Lesego Dinake het meer as 100km ver met verkeie taxi's gery om die opleiding by te woon. Sy was ook die eerste een wat haar geloof na die tyd gedeel het. Hier vertel sy aan die klas hoe sy die spesifieke persoon na die Here gelei het die vorige aand.
BEPLANNING
Gedurende Januarie was Pieter , saam met CCC se Nasionale Direkteur, Gordon Volkman, landswyd betrokke by die verskillende provinsies se beplanning-sessies om die jaar se beplanninge in eenheid te koördineer. Dit was ‘n besige tyd van baie vergaderings landswyd - Kaapstad, Durban, Pretoria & Midrand.
OPLEIDING
Begin Februarie het ons opleiding in Midrand aangebied aan 20 mense (personeel & JESUS-Film werkers) in die Uitkomsgebasseerde Volwasse Onderrigstyl. As CCC personeel is ons almal soveel keer betrokke by die aanbied van lesings. Om aktueel in tred by die moderne samelewing te bly, verskuif die klem by onderrig nou weg van die “Professor Styl” na meer interaktiewe, dinamiese groepsdeelname.
So ‘n opleiding is gewoonlik 4 dae se harde werk! Benewens die teoretiese lesings, kry elke student minstens vier keer die geleentheid om op verskillende vlakke prakties betrokke te wees in die aanbieding van opdragte waarna hy/sy telkens ge-evalueer word.
Na so ‘n week se opleiding weet jy dat jy gewerk het.
Spring gou en gryp die geleentheid! Jou lewe gaan verander!
7 - 15 Mei 2005 beplan Pieter ‘n JESUS-Film uitreik na Witsand, Garies en Hondeklipbaai. Die JESUS-Film gaan in Garies gewys word, dissipelskap gaan hanteer word, persoonlike stiltetyd, geestelike groei ens. Dit kos slegs R2500 (Akkomodasie, etes & brandstof). Daar is egter plek vir slegs 8 persone!! Sit dus sommer vandag al jou verlof in en bel ons om jou plek te verseker!!
Met so ‘n besige, vol program is dit belangrik om ook rustyd te skeduleer. 19 Maart - 2 April gaan ons heerlik by die Suidkus langs die see ontspan. Vir ons as gesin is en bly dit altyd ‘n hoogtepunt.
Onmiddellik na die vakansie is daar weer Uitkomsgebasseerde Volwasse Onderrig geskeduleer, en direk daarna is Pieter betrokke by die Welkom JESUS-Film spanne se Jaarlikse konferensie en beplanning.
PIETER is baie besig met sy nuwe verantwoordelikhede as landswye koördineerder van die "Expansion Ministry" (Kerkbediening en JESUS-Film aktiwiteite). Alhoewel sy program vol en veeleisend is, en hy ook baie weg is, geniet hy elke oomblik daarvan.
MAGDALEEN is natuurlik koördineerder van alle aktiwiteite by die huis en met die kinders. Soos julle self weet, is dit net so ‘n vol en besige program. Kobus se spesiale dieet a.g.v sy voedsel-allergie verg nogal heelwat fyn beplanning. Daar is altyd admin werk wat aandag benodig. Dan help sy ook met lesings gee tydens die opleiding van CCC personeel en ander mense in die uitkomsgebasseerde volwasse onderrigstyl (GCMT Training). Sy het reeds gekwalifiseer en ingeskryf vir Comrades Marathon en staan elke oggend voor 5h00 op om te gaan hardloop.
PEET is hierdie hele jaar nog net besig om werk te soek. Hy gaan kort-kort vir ‘n onderhoud. Dit is moeilik vir ‘n "onervare student" om werk te kry as byna al die poste wat geadverteer word, mense met ondervinding soek. Dan is daar natuurlik die feit van regstellende aksie wat ook sake nog moeiliker maak. Prys die Here vir ‘n werk wat hy gekry het!!! Dit is ‘n 3 maande kontrak en het te doen met webblad ontwerp.
DALEEN het haar studies by Tukkies begin. So ‘n week voor die universiteit begin besluit sy mos sy wil nie meer BMus studeer nie, maar wel Kuns. Ons moes vinnig reëlings tref. Die keuring vir Beeldende Kunste was reeds verby. Sy studeer dus Visuele Kunste vir hierdie jaar en gaan dan betyds teen die einde van die jaar die keuring vir Beeldende Kunste doen. Intussen tree sy nog steeds met haar dwarsfluit op by troues en funksies vir ekstra inkomste.
KOBUS het by Hoërskool Gerrit Maritz begin en dit gaan goed. Hy het egter heelwat gesondheidsprobleme. Ons het Desember allergietoetse op hom laat doen om die rede te probeer vasstel waarom hy op so ‘n gereelde basis altyd siek word. Die uitslag was nogal ontstellend: Hy toets hoogs allergies vir alle vleis, suiwel, preserveermiddels, piesangs, perskes en nog ‘n klomp ander goed. Hy is nou vanaf Januarie op ‘n onthoudingsdiëet waar al hierdie dinge uitgeskakel word. Dit beteken hy eet vegetaries: vis, soja en groente. Hy volg dit baie getrou, maar partykeer is dit maar baie moeilik so tussen al die maats wat lekkers en alles eet!
Back to news.