Frames | No Frames |
Main Page |
Pieter |
Brits Family |
JESUS-Film |
Sedert ons vorige nuusbrief het sommer baie water in die see
gevloei. Persoonlik kon ek die JESUS-Film, soos in die verlede, met
groot vrug aanwend in mense se lewens.
Wat veral vir my ‘n hoogtepunt was, was toe ek een Sondag middag die
geleentheid gehad het om die tieners van NG Wonderboom-Poort te kon
bedien met ‘n praatjie oor "Die Grootste Liefdesbrief Ooit".
Uit die bykans 100 kinders het seker 75
gebid om Christus in hul lewens binne te nooi. Sommige by hernuwing,
maar die meeste van hulle vir die heel eerste keer in hul lewens.
Persoonlik kon ek verskeie kere met mense oor hul verhouding met
Christus gesels.
Verder het ek, en soms Magdaleen saam met my, letterlik duisende
kilometers afgelê en JESUS-Film spanne en ondersteuners van amper
regoor die land besoek. Behalwe al die besoeke in Pretoria, was
ek o.a. in Pietersburg, Harrismith, Rustenburg, Nelspruit,
Lichtenburg, Kimberley, Komatiepoort, Warmbad, Groblersdal
en verskeie dorpe in die Vrystaat. As jy net dink dat elk van
hierdie besoeke byna ‘n week geduur het, dan kan jy jou net indink aan
die arme "weduwee en wesies" wat die fort moes hou in
pappa se afwesigheid! Aan die einde van die dag kan ek net sê dat dit
uiters suksesvol was, en dat die Here elke tree saam met my was.
Nou, aan die einde van die jaar wil ons elkeen van ons spanlede baie spesiaal bedank vir ‘n besondere aandeel in ons span. Dankie dat ons op jou kan staatmaak, en weet dat dit die Here is wat jou hart positief voorberei het.
Vanaf begin volgende jaar is daar groot veranderinge in die pyplyn rakende myself en Magdaleen. Met ons vorige nuusbrief het ons al ‘n bietjie gedeel, maar ook daar is al weer wysigings aangebring. Vir ’n groot sendingorganisasie soos Campus Crusade for Christ om dinamies te bly, moet daar voortdurend veranderinge plaasvind, nie net tot voordeel van die Koninkryk nie, maar ook tot voordeel van die organisasie en die personeellid self.
![]()
Wie van julle het al ooit hierdie koffiepot by die ingang van Koffiefontein in die Suid-Westelike deel van die Vrystaat gesien?
Toe ek laat een middag hier verby gekom het, het ek van opgewondenheid gejuig, met die hoop op heerlike koffie vir ‘n moeë reisiger.
![]()
Al ooit gehoor van die dorpie waar die treinspoor regdeur die dorp se hoofstraat loop?
Toe ek 14 jaar gelede vir die eerste keer deur Fauresmith gery het, het die trein juis deurgekom. Saam met die ander motors moes ek ook uitdraai sodat die ou groot ysterreus rustig kon deurry.
![]()
Nie net een keer nie, maar ‘n hele paar keer moes ek op plattelandse paaie deur soortgelyke hekke gaan. Stop - oop maak - deur ry - stop - toe maak - verder ry.
Wanneer mens dan alleen uitklim op daardie verlate vlaktes, besef jy weer opnuut hoe groot God se skepping is.
Wanneer ek so alleen op die ver paaie ry, dan sing ek lofliedere tot my keel hees is, bid en huil sommer so deurmekaar.Wat ‘n voorreg om vandag mens te wees!
![]()
Nie aldag dat 'n man 50 jaar oud word nie.
Die naweek van 31 Oktober het Magdaleen my geblinddoek en vir 'n volle uur draaie met my gery. Nadat ek toegelaat was om die doek oor my oë te verwyder, was ek sprakeloos: Ons was by 'n prentjie-mooi houthuisie langs Hartebeespoortdam.
Ons huisie vir 'n hele naweek - alleen!
![]()
Met Carel, (een van my vorige dissipels) se troue te Bergville, kon ek en Magdaleen 'n hele dag lank in die Drakensberge rondstap.
Hier klim Magdaleen teen 'n kettingleer op in die "gorge" by Mount Aux Sources.
"On the average, someone somewhere in the world has come to Christ through Campus Crusade ministries and partnerships every 1.8 seconds, 24 hours a day, every day of the year" (2001 Global Ministry Report)
Ons bid die Here se seën en beskerming oor jou en jou familie toe.
Mag jy Christus se vrede en liefde gedurende hierdie Kerstyd ervaar.
Gebruik hierdie rustyd om nie net nader aan jou gesin en familie
te kom nie, maar ook aan jou Skepper.